UP laat studente finaal in die steek, sê AfriForum Jeug

AfriForum Jeug eis die onmiddellike bedanking van prof. Cheryl de la Rey, rektor van die Universiteit van Pretoria.

Dit kom nadat die UP aangedui het dat klasse nie soos vroeër deur die universiteitsbestuur onderneem is op Maandag hervat sal word nie.

AfriForum het betroubaar verneem dat klasse waarskynlik vir die res van die jaar nie soos normaal sal voortgaan nie. Toetse sal ook nie op die geskeduleerde tye plaasvind nie en eksamens sal na verwagting eers in Januarie afgelê word.

Volgens inligting is dit hoogs waarskynlik dat studente vir die res van die jaar selfstudie sal moet doen en lesings en studiemateriaal vanaf die webtuiste sal moet kry.

“Die situasie het totaal hand-uit geruk. Die UP-bestuur is duidelik nie meer in beheer van die universiteit en ʼn klein radikale ekstremistiese groepie studente nie,” sê Morné Mostert, nasionale woordvoerder van AfriForum Jeug.

Ouers en studente kan nie langer toelaat dat hul toekoms in gedrang kom nie. “Die loopbane van duisende studente wat vanjaar moet afstudeer en volgende jaar moet begin werk, kan gekelder word. Miljoene rande se verliese kan weens die gebrek aan optrede deur universiteitsowerhede gelei word,” meen Mostert.

AfriForum en AfriForum Jeug is besig om ʼn regsmening in te win om toe te sien dat studente se regte beskerm word.

Gaan teken die petisie hier om deel van gesamentlike regsoptrede te wees.