jeug-kovsiesStem

Kovsies moet nou opstaan vir Afrikaans

AfriForum Jeug moedig studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aan om hul stemme te laat hoor en op te staan vir Afrikaans. Studente kan hulle menings laat geld deur vir opsie C te stem in die UV se peiling onder studente oor die universiteit se voorgestelde taalbeleid. 

“Dit is van kardinale belang dat studente oor die taalbeleid gaan stem. Hierdie peiling kan die toekoms van Afrikaans by dié instelling bepaal en Afrikaanse mense kan nie bekostig om onderrig in Afrikaans by nóg ʼn instansie prys te gee nie,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

Die UV is in die proses om sy taalbeleid te hersien ná klagtes deur studente dat aparte Afrikaanse en Engelse klasse rasseskeiding op kampus bevorder. AfriForum Jeug het vroeër die jaar ʼn voorstel tydens die proses van openbare deelname ingedien.

“Kovsie-studente moet nou saamstaan en verhoed dat daar aan ’n klein groepie radikales se eise voldoen word omdat daar soveel méér as net Afrikaans ter sprake is. Mens kan jouself afvra wat volgende is ná Afrikaans verwyder is,” het Dupper bygevoeg.

Studente aan die UV kan aanlyn by die onderstaande skakel gaan stem: http://api.ufs.ac.za/LanguagePoll/Login.aspx?Lang=eng

Daar kan ook op die kampus gestem word by die:

  • Kestell Dameskoshuis, Gazellie;
  • Fish Tank, SR-gebou, Thakaneng-brug; of
  • Konferensiesaal, Suid-kampus.

Afrikaans word by die meeste tersiêre instellings onder die vaandel van sogenaamde “transformasie” onderdruk. Dit wil voorkom of dié transformasie ten doel het om Afrikaans ten gunste van Engels uit instellings te verwyder, waarby weinig mense baat sal vind.