Veritas-kleinser

Kovsies-deelname aan ATKV-sêrkompetisie in gedrang; AfriForum Jeug doen peiling

AfriForum Jeug het ʼn aanlynpeiling begin om vir Kovsie-studente ʼn platform te bied om hul mening te lug oor die Universiteit van die Vrystaat (UV) se deelname aan die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se jaarlikse nasionale sêrkompetisie, bekend as Kleinsêr.

Dít volg nadat die voorsitter van die studenteraad (SR), Lindokuhle Ntuli, verlede week aangekondig het dat die SR besluit het om sy bande met die ATKV te verbreek, wat tot gevolg sal hê dat Kovsies vir die eerste keer in 20 jaar nie aan Kleinsêr sal deelneem nie. Die uitslae van die peiling sal aan die UV-bestuur bekend gemaak word voordat ’n finale besluit geneem word.

“Sosiale media het ontplof met kommentaar uit oud-Kovsie-geledere en van huidige Kovsie-studente wat hul teleurstelling uitgespreek het ná die SR-voorsitter se aankondiging. Kleinsêr is vir talle studente een van die grootste hoogtepunte van die jaar. Die geleentheid is deel van die universiteit se wese. Verder sorg Kleinsêr nie net vir groot opwinding en vermaak vir die deelnemers nie, maar ook vir hul ondersteuners en toeskouers,” het Marike van As, woordvoerder vir AfriForum Jeug se Kovsie-tak, gesê.

Die studenteraad voer aan dat die huidige kompetisie nie transformasie genoeg bevorder nie en dat dit studente van ander tale en kulture uitsluit.

“Kleinsêr het egter oor die jare tot ʼn inklusiewe geleentheid ontwikkel om verskillende kultuur- en taalgroepe bymekaar te bring. AfriForum Jeug is van mening dat studente ʼn onreg aangedoen sal word indien deelname aan Kleinsêr van hulle ontneem word,” het Van As bygevoeg.

Die finale besluit berus egter nie by die studenteraad nie, maar wel by die UV-bestuur. Daarom word alle Kovsie-studente aangemoedig om aan AfriForum Jeug se peiling deel te neem en hul stemme te laat geld.

Besoek www.afriforumjeug.co.za om aan die peiling deel te neem – beskikbaar in Afrikaans en Engels