uv-1

Kovsie-koshuisinwoner vergelyk sogenaamde dade van wit mense met dié van ’n duiwel

AfriForum het op Donderdag, 6 April 2017, verneem van rassistiese en uitlokkende opmerkings teenoor wit mense wat deur ’n student van die Villa Bravado-koshuis van die Universiteit van die Vrystaat (UV) op hul betrokke koshuisgang se WhatsApp-groep gemaak is.

“Daar was nooit enige tyd in die geskiedenis waar die swartmens die witmens se land of vasteland binnegeval het om mense dood te maak, vroue te verkrag, hul waardevolle geskenk (grond) te neem wat deur God gegee is nie, of die natuurlike hulpbronne van wit mense gebruik en oorgedra het nie. En selfs ’n stelsel geskep het om hul mag en voorreg te handhaaf! Is die bogenoemde dade nie dié van ‘n duiwel nie?” lui die boodskap wat die student op 28 Maart 2017 op die WhatsApp-groep geplaas het.

Hoewel verskeie sake voorheen onder die aandag van mnr. W.P. Wahl, assistentdirekteur van koshuislewe, gebring is, versuim hy om op te tree. Studente het dus vertroue in die klagtestrukture verloor en daarom het AfriForum Jeug ’n klag teen dié student by die UV ingedien en eis dat hy onmiddellik uit die koshuis geskors en dissiplinêre aksies teen hom geneem word.

Marike van As, AfriForum Jeug se Kovsie-koördineerder, sê dat dit nie die eerste keer is wat klagtes oor rassistiese uitlatings of optrede teenoor wit mense op die UV-kampus gebring word nie. “Ons sou graag wou sien dat die UV optree teen studente wat rassisme op kampus aanhits en op dié wyse die universiteit se beleide verontagsaam. Ons eis dat die UV streng hierop reageer.”

Van As sê voorts dat die betrokke student voorheen by betogings by die universiteit betrokke was en al voor ’n dissiplinêre komitee verskyn het.

“’n Koshuis is veronderstel om ’n veilige hawe te wees waar studente kan leer, leef en aan ’n gesonde studentelewe deelneem sonder om met politiek en rassisme gekonfronteer te word.”

Soortgelyke klagtes kan onder AfriForum Jeug se aandag gebring word deur ‘n e-pos na jeug@afriforum.co.za te stuur.