“Is Jy Vry?” vra AfriForum Jeug Tukkies

AfriForum Jeug daag studente met hul nuwe veldtog: “Is Jy Vry?” uit om te dink en wonder oor die gehalte van die vryheid wat hulle geniet. Dié jeugorganisasie het uit ‘n meningspeiling op die kampus van die Universiteit van Pretoria, onder studente uit uiteenlopende agtergronde, besef die meeste studente weet nie wat hulle op 27 April, Vryheidsdag, gevier het nie.

“Een van die drie vrae wat ons die studente gevra het, was: Voel jy tans vry as ‘n Suid-Afrikaner? Slegs 32% het JA geantwoord. Een van die kommerwekkende gevolgtrekkings uit die meningsopname is dat studente 20 jaar ná demokrasie geen verskil in die land sien nie en daagliks meer probleme ervaar. Dit was ontstellend om te besef hoe negatief die studente eintlik hul omstandighede ervaar,” sê Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies.

Dié tak van AfriForum Jeug het vandag honderde heliumballonne die hemelruim ingestuur as ʼn simboliese boodskap aan die regering om aan jongmense ware vryheid te gee. “Baie studente voel dat hulle vryheid ingeperk word deur geweld, swart ekonomiese bemagtiging,  kwotas, rasseklassifikasie en korrupsie,” sê Oosthuyse.

AfriForum-Jeug-stuur-500-ballonne-die-hemelruim-in
AfriForum Jeug stuur 500-ballonne die hemelruim in