Jongmense, feesgangers en kunstenaars neem standpunt in teen onbillike regstellende aksie

Lede van AfriForum Jeug gaan vir 5 dae in ‘n hok sit om die regering se ongebalanseerde regstellende aksiebeleid uit te beeld.  Hierdie proteshok is opgeslaan by Aardklop in Potchefstroom, op die hoek van Tomstraat (Steve Bikostraat) en Borcherdstraat.  Deur die loop van die fees gaan verskeie kunstenaars en gemeenskapsleiers ook hulle verskyning in die hok maak.  Die kunstenaars wat by geleentheid in die hok gaan sit, sluit onder andere Steve Hofmeyr, Jakkie Louw, Blackie Swart, Jacques de Koning en Mathys Roets in. ‘n Petisie om jongmense van regstellende aksie vry te stel word vanuit die hok gedryf.

Hierdie aksie vorm deel van AfriForum Jeug se veldtog om jongmense van regstellende aksie vry te stel.  Saam met die geleentheid is ‘n SMS-lyn oopgemaak waarby die woord ‘vry’ of ‘free’ na 38655 geSMS kan word om R10 te skenk vir die veldtog om jongmense van regstellende aksie vry te stel.

‘n Webblad, www.stelonsvry.co.za, is ook vandag bekendgestel. Hierdie webblad bevat ‘n blog waarop die “tronkvoëls” vanuit die hok kan publiseer wat elke dag rondom die hok gebeur. Die webblad en die blog is hoofsaaklik daarop gemik om aan die breë publiek die geleentheid te gee om hulle mening oor regstellende aksie te lig. Die blad bevat ook inligting oor die insittendes van die hok, sowel as die tye wanneer bekende kunstenaars in die hok gaan sit. ‘n Elektroniese petisie om jongmense vry te stel, is ook op die webblad beskikbaar.

AfriForum Jeug se Nasionale Voorsitter, Ernst Roets, sit ook in die hok. Roets het gesê hierdie aksie, met die webblad en die SMS-lyn is juis daarop gemik om aan die publiek wat by die huis of werk sit ook die geleentheid te gee om hulle mening te lig en standpunt in te neem. “Die regering se beleid is ongebalanseerd,” het Roets gesê, “dit is nie in lyn met die Internasionale Reg nie en dit skep konflik en polarisasie.”

“Deur die loop van die week beplan ons om verskeie aksies vanuit die hok te loods,” het Roets gesê.