Jonathan-Jansen

Jansen pleeg gemeenskapsbedrog teen minderhede

Die Visiekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), prof. Jonathan Jansen, pleeg bedrog teen minderheidsgemeenskappe omdat hy juis steun verwerf het op die voorwendsel dat hy ten gunste van moedertaalonderrig is en spesifiek Afrikaanse onderrig steun,” het AfriForum Jeug vandag gesê. Dié stelling volg ná prof. Jansen se uitlatings tydens die Percy Baneshik Gedenklesing op die UV-kampus.

“Dit is verbasend hoe prof. Jansen sy rug draai op alle inheemse tale ten gunste van Engels, terwyl daar terselfdertyd treffende voorbeelde is waar die gebruik van moedertaalonderrig studente beter laat presteer as onderrig in ʼn tweede taal,” sê Willie de Waal, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies, in reaksie op prof. Jansen se stelling dat studente hulle taal moet “prysgee” vir Engels om sodoende versoening te bewerkstellig.

In 1979 het formele onderwys in Mali (Segou) van Frans na die onderskeie moedertale verander. Leerlinge wat in hulle moedertaal onderrig is, het ʼn 10% hoër slaagsyfer gehad as die nasionale gemiddeld.

“Prof. Jansen onderskat die waarde wat gemeenskappe in Suid-Afrika aan Afrikaans heg. Dit is nie net ʼn taal nie, maar deel van wie ons is. As Jansen werklik die internasionale tendens wil navolg moet hy studente slegs in Mandaryns laat studeer, aangesien dit die taal is met die grootste hoeveelheid moedertaalsprekers ter wêreld,” sê de Waal.

AfriForum Jeug beskou prof. Jansen se uitlatings as ʼn aanval op die menswaardigheid van minderheidskulture in Suid-Afrika en ʼn bevestiging van hoe ver agter Suid-Afrika is ten opsigte van internasionale standaarde wat moedertaalonderrig betref.