Jaarlikse protespiekniek vir Afrikaans op Tuks vandag ingestel

Studente van die Universiteit van Pretoria (UP) het vandag, onder leiding van AfriForum Jeug se Tukkietak, ʼn lentedagpiekniek op die kampus gehou om die Afrikaanswording van UP op 13 September 1932 te herdenk.  Hierdie piekniektradisie is ingestel om in die voetspore van die Tukkie van die Eeu, wyle dr. Anton Rupert, te volg.  In 1933, toe UP reeds ʼn jaar lank Afrikaans was, het dr. Rupert, wat toe nog ʼn UP-student was, ʼn piekniek op UP se grasperk gehou ter viering van dié taalbeleid.

“Ons wil Afrikaans op UP vier, ten spyte van die feit dat Afrikaans en moedertaalonderrig tans deur die universiteit uitgefaseer word,” het Awie Erasmus, voorsitter van AfriForum Jeug se Tukkietak, gesê.  “Hierdie piekniek het dus ʼn sterk element van misnoeë en protes teen die bestuur wat voortgaan om politiek te speel, terwyl studentebelange aan die kortste end trek.”

Studente en lede van AfriForum Jeug het aangedui dat hulle hierdie protespiekniek ʼn jaarlikse instelling wil maak.  Daar is ook besluit dat vandag se piekniek opgevolg moet word deur die indien van formele klagtes by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat), die Menseregtekommissie, die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en die Departement van Onderwys, indien UP nie binne sewe dae bevredigende terugvoer kan gee oor die stappe wat geneem is om die ernstige taalklagtes wat vroeër vanjaar deur AfriForum Jeug ingedien is, aan te spreek nie.

Erasmus het gesê dat hulle nou geen ander keuse het as om ernstiger stappe te oorweeg nie. “Ons besef dat daar probleme rondom hulpbronne en befondsing is, maar UP is ook grof nalatig om hulle grondwetlike pligte na te kom.  Die UP-owerhede se blatante stilswye oor hierdie saak is ʼn praktyk wat met wortel en tak uitgeroei moet word.  Ons universiteit is besig om een van die struikelblokke te word wat oorkom moet word as ons ʼn werklik vrye en gelyke Suid-Afrika wil skep.”

Verlede jaar was UP 75-jaar Afrikaans.  Ten spyte van versoeke wat in hierdie verband deur die publiek ingedien is, het die universiteit geweier om hierdie aangeleentheid te vier.