IMG-20160819-WA0002

Hooggeregshof stop SR-verkiesing sonder AfriForum-kandidate

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het pas gelas dat geen studenteraadverkiesing by die Universiteit van Stellenbosch (US) gehou mag word voordat dié universiteit se studentehof aan AfriForum se kandidate redes verskaf vir hulle diskwalifikasie uit die studenteraadverkiesing en hulle geleentheid kry om daarteen te appelleer nie.

Dít volg nadat AfriForum die hof met ʼn dringende aansoek genader het om die kandidatuur van agt VSR-kandidate te herstel.  Daar is ʼn skikking tussen die partye bereik dat die US teen Maandag redes vir die studentehof se beslissing moet verskaf. Dit sal die kandidate in ʼn posisie stel om die beslissing te hersien of daarteen te appelleer. Dit volg ná ʼn reeks bevele deur die studentehof wat gelei het tot die uitsluiting van AfriForum-kandidate aan toekomstige VSR-verkiesings.

“Hierdie skikking is ʼn duidelike erkenning deur die US dat hulle tot nou toe kwaadwillig en prosedureel onbillik teenoor AfriForum se kandidate opgetree het. Die feit dat ons eers die hooggeregshof moes nader voordat ons gehoor kon word, onderstreep dit,” sê Bernard Pieters, AfriForum Jeug se Maties-kampuskoördineerder.

Die skikking stel verder dat die US nie met ʼn nuwe verkiesing kan voortgaan voordat hierdie aangeleentheid afgehandel is nie.

“Hierdie is nie die eerste keer dat die US-strukture onregmatig optree teenoor studente nie. Die studentehof het die voorbeeld van die bestuur gevolg deur om bloot hulle eie politieke agenda na te streef en nie in die beste belang van die studente op te tree nie. Vandag se uitslag stuur ook ʼn boodskap uit dat AfriForum Maties nie gaan terugdeins vir enigeen wat studente van hul demokratiese regte wil ontneem nie. Ons is hier om te bly,” sê Pieters verder.

AfriForum Maties wil studente aanmoedig om aan die VSR-verkiesing deel te neem: teken gerus in op ons Facebook-blad om aan die aktiwiteite van die AfriForum-tak deel te neem.

SR-kandidate voor die hooggeregshof in Kaapstad.
SR-kandidate voor die hooggeregshof in Kaapstad.