Hoksitter gaan bly tot hul 10 000 handtekeninge het

“Ons sal hier bly sit totdat ons 10 000 name op ons petisie gekry het!” Dit is wat die AfriForum Jeuglede wat uit protes teen onbillike regstellende aksie hulleself in ‘n hok by Aardklop toegesluit het, vandag besluit het. Hul vra dat jongmense van regstellende aksie vrygestel word. 

“Daar is net een manier hoe ons 10 000 handtekeninge voor die einde van die week gaan kry, en dit is as die publiek in hulle massas kom deelneem aan die petisie,” het Ernst Roets, Nasionale Voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. Die petisie kan onderteken word op www.stelonsvry.co.za. Alternatiewelik kan feesgangers die hok op die hoek van Tomstraat (Steve Biko) en Borcherdstraat besoek om die petisie onderteken. Hierdie petisie is laat gisteroggend van stapel gestuur en byna 2 000 feesgangers het dit reeds onderteken.

Volgens Roets is die petisie deel van Solidariteit se breë veldtog om jongmense van regstellende aksie vry te stel. Hy het aangedui dat die uiteindelike doel is om die petisies in kruiwaens na die regering toe te stoot wanneer onderhandel word vir ‘n billike en regverdige implimentering van regstellende aksie.

‘n SMS-lyn is ook bekendgestel waar die woord “vry” na 38655 geSMS kan word om R10 vir die veldtog te skenk. Verskeie kunstenaars het reeds bevestig dat hulle saam met die jongmense en feesgangers in die hok gaan sit. Die jongmense het gesê hulle sal hier bly sit, selfs al beteken dit dat hulle na die vakansie in die hok moet bly.

Meer inligting oor AfriForum Jeug se standpunte en die petisie, sowel as die kunstenaars wat ‘n draai in die hok gaan maak, is beskikbaar op www.stelonsvry.co.za.