Grootfontein Landboukollege-studente leef soos varke

Nog protesaksies kan binnekort deur studente aan die Grootfontein Landboukollege in Middelburg (Oos-Kaap) volg as daar nie dringend aan hul eise gehoor gegee word nie.

Talle ontevrede studente het verlede week begin om aan hul misnoeë oor die verblyftoestande by dié kollege uiting te gee deur ’n varkhok voor die ingang van die kollege op te rig.

Dié protesaksie het gevolg nadat herhaalde pleidooie deur AfriForum Jeug en studente aan Tino Herselman, direkteur van die kollege, op dowe ore geval het. Die jeugorganisasie het ook versoek dat studente se griewe onder Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, se aandag gebring word tydens sy onlangse besoek aan die kollege. Geen terugvoer is tot dusver ontvang of dit wel gebeur het en of daar opgetree gaan word nie.

“Die bestuur dring daarop aan dat ons die regte kanale moet volg om ons klagtes aan te meld, maar wanneer ons dié kanale volg, kry ons weinig tot geen reaksie nie. Indien die bestuur wel ’n klagte aanspreek, bied hulle slegs tydelike oplossings,” sê Jan-Hendrik Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Grootfontein-tak.

Volgens Marike van As, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Universiteit van die Vrystaat en Grootfontein Landboukollege, is die verblyftoestande egter nie die enigste probleem by dié kollege nie, maar is daar ook probleme soos swak bestuur van die koshuis en sewe opleidingsplase, onregverdige afdwinging van transformasie en miskenning van taalregte. Sy sê dat AfriForum Jeug en verskeie studente ook bekommerd is oor die gehalte van onderrig by dié kollege.

“Die staat druk vir grondhervorming, maar die instansies waar jong boere opgelei moet word, gaan ten gronde. Dit blyk dat die privatisering van hierdie instansies die enigste alternatief is indien die politieke wil nie daar is om huidige probleme aan te spreek en op te los nie. Ons wil hê dat Grootfontein Landboukollege weer een van die beste in die land moet wees,” sê Van As.

  • Video van Grootfontein Landboukollege en die protesaksie.