UP gooi baba saam met badwater uit

Die Universiteit van Pretoria (UP) het op 17 Mei besluit om nóg ’n studentetradisie op dié kampus te skrap. Serrie – ’n jare-oue studentetradisie – is gestaak omdat dit klaarblyklik ’n verkragtingskultuur by die universiteit skep. Dít volg nadat studente oor onvanpaste plakkate gekla het wat tydens die damesoptredes deur mans in die gehoor omhooggehou is.

Hoewel AfriForum Jeug sterk teen die krasheid van dié plakkate gekant is, meen die organisasie dat reëls in plek gestel moet word om dié omstrede optrede van ’n paar individue te voorkom eerder as om die hele tradisie te skrap.

“Die besluit om Serrie af te skaf, straf in wese dié studente wat hard geoefen het om aan ’n opbouende studentetradisie deel te neem pleks van om teen enkele individue op te tree wat nie hulself kan gedra nie,” meen Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se Tuks-koördineerder.

Grobbelaar sê verder dat die besluit om Serrie af te skaf slegs deur bestuur geneem is en geen insette van koshuisleiers in ag geneem is nie.

Hy meen dat die bohaai rondom dié insident veroorsaak is deur politieke partye wat hulle eie agendas op kampus dryf. “’n Spesifieke politieke party op die UP-kampus het bevestig dat hulle fotograwe na die Serrie-byeenkoms gestuur het juis om foto’s te neem en dit aan die media te stuur. Daar is al in 2017 probeer om Serrie af te skaf omdat dit kwansuis nie transformerend genoeg is nie. Dié jaar gebruik politieke partye op kampus net ’n ander invalshoek. Dit is vir ons duidelik dat hulle ’n agenda dryf om studentetradisies op kampus te verwyder en dat UP-bestuur aan hierdie vals agendas gehoor gee,” sê Grobbelaar.

“Volgens ons inligting het die studente wat oor die onvanpaste plakkate gekla het nie bedoel dat Serrie afgeskaf moet word nie, maar slegs dat daar teen die skuldige persone opgetree moet word. Dit is om dié rede vir ons duidelik dat universiteitbestuur slegs aan politieke grille gehoor gee en geen ag slaan op studente wat deur dié besluite geraak word nie,” sê Renier Goosen, Afriforum Jeug se Tuks-takvoorsitter.

UP-studente het ’n petisie teen die afskaffing van Serrie opgestel. Gaan na https://www.petitions24.com/bring_back_serrie om jou stem hieroor te laat hoor.