Geslote vergadering met adjunkminister oor rasbeleide

AfriForum Jeug se nasionale bestuur het verlede week met Buti Manamela, adjunkminister in die presidensie, vergader oor die nasionale jeugbeleid wat in die volgende vyf jaar geïmplementeer gaan word. 

“Ons het duidelik beswaar aangeteken teen die bevoordeling van sekere rasse in die beleid. Bemagtiging is belangrik om jongmense voor te berei sodat hulle op ʼn gelyke voet kan meeding, maar bemagtiging op grond van ras is egter onaanvaarbaar,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

Die dokument het verskeie voorstelle gemaak in terme van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) waar swart jongmense uitsluitlik bevoordeel word, grondhervorming en beurse. Daar is wel ooreengekom dat beurse vir alle rassegroepe beskikbaar sal wees, gebaseer op sosio-ekonomiese toestande.

AfriForum Jeug het verder vir Manamela aangedui dat:

  • Ontwikkelingsprogramme vir jongmense nie alleenlik deur ondoeltreffende regeringsinstellings soos die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) gedryf en beheer moet word nie, maar dat ander jeugorganisasies ook die geleentheid moet hê om jeugprogramme toe te pas.
  • Entrepreneurskap die kern oplossing moet wees en dat bystand in dié hoedanigheid nie op grond van ras moet geskied nie. Daar is ook voorgestel dat regulasies vergemaklik moet word vir jongmense om so spoedig as moontlik ʼn besigheid op die been te kan bring.

“Hoewel ons die bevoordeling van sekere rassegroepe in die beleidsraamwerk bevraagteken, is ons dankbaar vir die eerlikheid waarmee die vergadering gevoer is en vir die kans om insette te lewer namens minderhede wat dikwels oorgesien word in die regering se planne,” het Dupper gesê.

“ʼn Gedetailleerde verslag word nou opgestel waarin ons voorstelle en kommentaar rakende die voorgestelde beleid gee, waarna dit ook by die kantoor van die adjunkminister ingedien sal word.”

AfriForum Jeug vorm deel van ʼn groep jeug-organisasies wat later vanjaar op ʼn nasionale konferensie die beleid verder gaan bespreek en formuleer.