Die-EFF-het-die-naamborde-wat-AfriForum-Jeug-opgerig-het-met-sproeiverf-gevandaliseer.

Geen plek vir Afrikaner-erfenis in sodanige demokrasie

Die EFF het die naamborde wat AfriForum Jeug opgerig het met sproeiverf gevandaliseer.

“Dit is duidelik dat die EFF ʼn radikale ‘slegs-swart’- politieke party is. Hul optrede wys aan landsburgers dat daar nie plek vir Afrikaner-erfenis in dié land is nie,” het Ian Cameron AfriForum Jeug se woordvoerder gesê, dit nadat die EFF gisteraand verskeie Kerkstraat-naamborde met rooi verf bygekom het.

Cameron het verduidelik dat Ntobeng Ntobeng van die EFF se uitsprake gisteraand aan die media bewys is dat geen van die  ‘ou name’ soos dié van Kerkstraat vir hulle óf die ANC belangrik is nie.

“Dit blyk dat die EFF slegs met rooi verf kan debatteer en dat nasiebou nie op hulle eensydige agenda is nie. AfriForum Jeug hou vol dat alle kulture in Suid-Afrika se erfenis bewaar moet word, pleks daarvan dat rassehaat soos deur die EFF en die ANC aangehits word,” het Cameron verduidelik.

AfriForum Jeug het genoem dat nóg die Afrikaner nóg iemand anders se geskiedenis toegeverf kan word nie. “Ons aksie is gedoen om wedersydse erkenning en respek vir mekaar se kultuur en erfenis te verbreed, nie om daaraan afbreuk te doen nie. Om oor ’n ander se kultuur te verf, is nie die manier om daardie mense se erfenis te respekteer nie,” het Cameron afgesluit.

AfriForum Jeug vra dat die publiek hul steun vir die behoud van Pretoria se straatname sal wys deur “straat” na 32687 te SMS. SMS’e kos R1 elk.