ZA-Elsenburg-Agricultural-Training-Institute

Elsenburg-studente deur betogers aangerand

AfriForum Jeug het vandag ’n video bekend gemaak wat wys hoe studente van die Elsenburg-landboukollege deur betogende studente en lede van die EFF met swepe en sambokke aangerand word. Op die video kan ook gesien word hoe die studente die lede van die EFF van die perseel verwyder. Dié video is vanoggend tydens ’n onwettige en gewelddadige betoging, wat gister begin het, deur een van die studente geneem en aan AfriForum Jeug gestuur. 

AfriForum Jeug het vandag ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy gekontrakteer om die veiligheid van die nie-betogende studente te verseker, en is ook besig met voorbereiding om ’n dringende hofinterdik te kry. Indien die interdik sou slaag, sal die kollegebestuur verplig wees om teen die betogers op te tree. Betogers sal ook gearresteer word. Regsoptrede word ook teen die polisie oorweeg, wat tydens die voorval op die toneel was, maar in hul plig versuim het om orde te handhaaf en studente te beskerm.

AfriForum Jeug ondersteun nie-betogende studente in hul reg om hulself te verdedig en hul kampus te beskerm.

AfriForum Jeug het gister berig dat klasse by die Elsenburg-landboukollege tot verdere kennisgewing opgeskort is nadat studente dit vir die soveelste keer ontwrig het. EFF-lede wat met minibusse aangery is, is saam met ’n klein groepie studente wat by die kollege studeer aan die stuur van dié betoging.

Die betogers het klasse se deure gister met kettings en slotte gesluit en medestudente glo in die gesig gespoeg en gevloek. Uitsprake soos: “You f****ng white b*tch, what are you doing here?” is glo ook deur die betogers geuiter. Betogers was gister reeds met sambokke en swepe gewapen.

“Baie van die betogers is nie studente aan die kollege nie, ons kan nie verstaan hoekom die EFF-lede elke keer op kampus toegelaat word nie. Die bestuur het beheer oor die kollege verloor,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Klik op die volgende skakel om die na die video te kyk: https://youtu.be/P0jHqVx5m_E