ZA-Elsenburg-Agricultural-Training-Institute

Elsenburg ’n tikkende tydbom; klasse opgeskort na betoging

Alle klasse by die Elsenburg-landboukollege is tot verdere kennisgewing opgeskort nadat studente dit gister vir die soveelste keer ontwrig het. EFF-lede wat met minibusse aangery is, het saam met ’n klein groepie studente wat by Elsenburg studeer, medestudente die reg op onderrig ontneem.

Die optoggangers het klasse se deure met kettings en slotte gesluit en medestudente glo in die gesig gespoeg en gevloek. Uitsprake soos: “You f****ng white b*tch, what are you doing here?” is glo ook deur die betogende studente geuiter. Van die betogers was met swepe en sambokke gewapen.

“Dit is duidelik dat vandag se optog nie op die taalkwessie fokus nie, maar eerder daarop gemik is om ’n rassevoorval uit te lok. Die bestuur moet nou hard en regverdig optree,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug staan van sy lede op die kampus by om ’n dringende hofinterdik te kry wat daarop gemik is om bestuur te dwing om die polisie se hulp in te roep om wet en orde te handhaaf en studente se veiligheid te verseker.

“Studente se veiligheid en toegang tot onderrig is die heel belangrikste prioriteit en ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat dit gebeur en hul regte beskerm word,” het Maree gesê.

Die ongelukkigheid oor die gebeure van die afgelope weke het tot so ʼn mate uitgekring dat beswaarde ouers en studente ’n brief aan Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, gestuur het.

 

Lees die brief hier: Brief van studente en bekommerde ouers aan Helen Zille – Elsenburg 31 Augustus 2015