EFF-Logo_Web

EFF gooi Afrikaanse studente met glasbottels by UP

Die EFF het gister op die Universiteit van Pretoria (UP) se hoofkampus Afrikaanse studente met glasbottels gegooi, hulle gevloek en gespoeg en gesê dat Afrikaanse mense nie welkom is in Suid-Afrika nie.

AfriForum Jeug het met behulp van ’n groep studente probeer om die situasie te kalmeer en onder beheer te hou, maar ondanks pogings om dit te ontlont, het die EFF gewelddadig geraak.

“Ons het geen ander keuse gehad as om onsself te verdedig nie. Die EFF was doelgerig om rassekonflik te skep en studente te polariseer. UP se sekuriteit was nie opgewasse nie, en studente moes hulself verdedig,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se woordvoerder, gesê.

Mostert meen dat die polisie nou moet ingryp en dat die EFF hul gewelddadige en rassistiese optrede summier moet stop om te verhoed dat dít wat gister gebeur het nie in ’n nasionale tendens ontaard nie.

AfriForum Jeug sal studente organiseer, mobiliseer, bystaan en help verdedig waar dit nodig is.