up

UP-dosente moet taalbeleid nakom, sê AfriForum Tuks

AfriForum Tuks het ’n skrywe aan die Universiteit van Pretoria gerig waarin hulle aandui dat die universiteit geen module strydig met die taalbeleid mag aanbied nie. Dit volg ná AfriForum Tuks inligting ontvang het dat sekere dekane reeds poog om die Engels-alleen-beleid te implementeer ondanks ’n raadsbesluit dat die taalbeleidsproses van voor af moet begin.

“Die universiteitsbestuur moet dosente in kennis stel dat die ou taalbeleid steeds van krag is omdat die hersieningsproses van die taalbeleid van vooraf moet begin. Ons kan nie ’n situasie hê waar die universiteit met die hersieningsproses besig is terwyl fakulteitshoofde in die praktyk ’n ander taalbeleid toepas nie,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

Hierdie feite stem ooreen met die situasie by die Universiteit van Stellenbosch, waar AfriForum Jeug ’n aansoek by die hof ingedien het om fakulteitsbesture te verplig om aan die taalbeleid gehoor te gee.

Die raad van die Universiteit van Pretoria is die enigste liggaam wat die taalbeleid formeel kan verander. Die raad kan dié besluit slegs neem wanneer daar met alle belanghebbendes gekonsulteer is en ’n voorstel deur die taalkomitee gemaak is. Hierdie proses sal die raad in staat stel om ’n ingeligte besluit te neem.

“AfriForum Tuks sal die situasie dophou en verder met die universiteits- en fakulteitsbestuur kommunikeer sodat daar nie teen studente gediskrimineer kan word nie.”

Sluit aan by AfriForum Jeug deur “Tuks” na 32687 te SMS (R1 per SMS).