GLOI

Departement oneerlik en oningelig oor Grootfontein-taalbeleid

Die departement van landbou, bosbou en visserye is oneerlik en oningelig rakende hulle voorgestelde taalbeleid vir die Grootfontein-landboukollege in Middelburg in die Oos-Kaap.

In die voorgestelde beleid sê die departement dat die meeste studente nie ʼn gemeenskaplike huistaal praat nie en dat alle onderrig om dié rede in Engels moet geskied. Die AfriForum Jeug-tak op Grootfontein het egter vroeër vanjaar ʼn petisie onder studente by dié kollege begin waarvan 63% vereis om onderrig in Afrikaans te ontvang.

“Dit is duidelik uit die voorgestelde beleid dat die departement nie ʼn idee het wat die behoeftes van die studente  is nie, en ook glad nie daarin belangstel om in hulle beste belang op te tree nie óf doelbewus hulle belange ignoreer in die naam van transformasie,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

Die voorgestelde beleid weerspreek homself deur te erken dat dit belangrik is dat studente in hulle voorkeurtaal moet kan kommunikeer om komplekse onderwerpe te kan verstaan, en terselfdertyd te sê dat onderrig slegs in Engels sal geskied.

“Die meeste studente se reg tot moedertaalonderrig word geskend om te voldoen aan ʼn klein groepie radikales se eise dat Afrikaans by die kollege moet verdwyn.” 

“In dié geval is Afrikaans die slagoffer van sogenaamde “transformasie” omdat personeel wat slegs Engels-magtig is aangestel word om aan die departement se rasse-teikens te voldoen,” het Dupper afgesluit.

 

Die voorgestelde beleid kan hier gelees word: DRAFT GADI LANGUAGE POLICY