10350639_982624975102735_7187525103375042228_n

Curro insident: Rasbehepte politici moet nie kinders misbruik om illusie van rassisme te skep nie

AfriForum Jeug het die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, en ander politici en politieke partye wat ‘n skooluitstappie van die Curro skool in Roodeplaat wat in klasverband plaasgevind het, as rassisme voorhou, daarvan beskuldig dat hulle onskuldige kinders misbruik om hulle eie rasbehepte agenda te voer.

Volgens Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, is Lesufi daarvoor bekend dat hy valse aanklagted van rassime stook in ‘n poging om Afrikaans as onderrigtaal te ondermyn. “Om ‘n Afrikaanse klas wat in klasverband vervoer word, valslik as rasseskeiding te probeer voorhou, is verregaande,” het Maree gesê.

Maree het gesê die bohaai oor die Curro-insident is aanduidend van die dubbel standaarde oor rassisme in die land. “Die rasbehepte politici swyg oor die staat se rasbeheptheid en rassisme teen wittes, terwyl ‘n onskuldige skooluitstappie in klasverband valslik tot ‘n nasionale rasse-insident verhef word,” het Maree bygevoeg.

Volgens Maree swyg Lesufi gerieflikheidsonthalwe oor die feit dat daar in die sogenaamde “swart bus” ook wit Engelssprekende leerders was.