Blade versuim om veiligheidsprobleme by universiteite aan te spreek

“Waar is dr. Blade Nzimande, die minister van onderwys, en wat gaan hy doen om geweld by universiteite te voorkom?”

Dít is die vraag op AfriForum Jeug se lippe na ʼn noodlottige mesgeveg tussen twee studente by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) waarin een dood en ʼn ander ernstig beseer is. Dié insident was een van talle gewelddadige voorvalle wat vanjaar by universiteite regoor die land plaasgevind het.

“Die minister en sy span moet daadwerklik optree. Sekuriteit en studenteveiligheid by dié universiteit asook talle ander kampusse waaronder Medunsa en Stellenbosch is duidelik aan flarde en die minister skitter in sy afwesigheid,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van Afriforum Jeug, gesê.

Sedert die begin van die jaar het Nzimande gewelddadige betogings by universiteite slegs veroordeel, maar geensins opgetree nie. Hy skroom egter nie om sy ANC-gedrewe beleid van transformasie af te dwing of om sy stem dik te maak rakende probleme op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus nie.

“Dit blyk dat transformasie en rasse demografie vir die minister belangriker is as studenteveiligheid op universiteitskampusse,” het Maree gesê.