Die_skip_University_of_pretoria-1-scaled

UP-bestuur laat geskorste studente op kampus toe

AfriForum Jeug is ongelukkig oor die besluit wat deur prof. Cheryl de la Rey, die rektor en visekanselier van die Universiteit van Pretoria (UP), en die UP-bestuur geneem is om vyf studente wat tydelik geskors is weer tot die UP-kampus toe te laat. Dit kom nadat daar ’n ondersoek na dié studente se gedrag gelas is nadat hulle hul vroeër vanjaar aan onwettige optrede tydens die kampusproteste skuldig gemaak het.

AfriForum Jeug ondersteun en verwelkom enige dissiplinêre aksie teen studente van enige ras of kultuurgroep wat hulle aan ontoelaatbare gedrag soos haatspraak, kwaadstokery of geweld skuldig maak. 

“Ons is teleurgesteld in De la Rey en haar bestuur wat weereens aan die eise van die EFF en hul trawante toegegee het. Daar word aan meer en meer verregaande eise toegegee, wat nuwe presedente skep. Waar eindig dit?” het Marthinus Jacobs, voorsitter van AfriForum Jeug se Tukkies-tak, gesê. 

AfriForum Jeug is van mening dat die universiteit ander studente, kontrakteurs, personeellede, lede van die publiek en die universiteit versaak deur dié geskorste studente weer op kampus toe te laat.

“Oortreders moet besef dat hulle verantwoordelikheid moet neem en dat oortredings nie ongestraf gelaat kan word nie. Indien nie, skep die universiteit ’n kultuur waar iedereen kan doen wat hulle wil sonder dat hulle op die moontlike gevolge ag hoef te slaan, want verantwoordelikheid word nie afgedwing nie. Dit is ook kommerwekkend dat die meeste van dié geskorste studente gereelde oortreders is, waarvan sommige selfs strafregtelike klagtes teen hulle hangend het.”