ANC plan vir graduandi vuur emigrasie aan – AfriForum Jeug

Die ANC se plan dat alle afgestudeerdes ‘n diensjaar moet verrig ná hulle hulle studies voltooi het, gaan jong professionele mense net aanspoor om die land te verlaat, het AfriForum Jeug vandag gesê. 

“Graduandi sit gewoonlik met hope studieskuld en hierdie maatreël sal daardie las net vergroot. Boonop kan hulle nie met hierdie lae-inkomsteberoepe ʼn konstruktiewe bydrae tot die ekonomie maak of vir afhanklikes sorg nie. Minderheidsgroepe word reeds benadeel by die toekenning van beurse en werksgeleenthede. Nou is hulle boonop ‘n jaar lank aan die staat uitgelewer,” sê Eduan Dupper, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug is van mening dat so ʼn maatreël inbreuk maak op jongmense se ekonomiese en burgerlike vryheid, omdat dit hulle die reg ontneem om die loopbane van hulle keuse te volg.

“Nog die vaardigheidskrisis in die staat, nog werkloosheid onder jong Suid-Afrikaners gaan opgelos word deur jong graduandi as dwangarbeid aan te wend. Die enigste werkbare oplossing is om ʼn ekonomiese klimaat te skep waarin sake-ondernemings kan groei en floreer en mense in diens kan neem, sodat hulle ook produktief kan begin bydra tot die ekonomie,” sê Dupper.