up

Afrikaanse studente staan saam vir behoud van Afrikaans op UP

AfriForum Jeug en duisende studente het vandag opgestaan teen die EFF se eis dat Afrikaans van die Universiteit van Pretoria (UP) se kampus verwyder moet word. AfriForum Jeug het vandag ’n memorandum aan prof. Niek Grove, registrateur van UP, oorhandig. Ná die oorhandiging het lede van EFF oproerig geraak en lede van die polisie moes ingeroep word. ’n Lid van AfriForum Jeug is deur lede van die EFF aangerand.

Nadat alle studente van die UP uitgenooi was om ’n algemene vergadering oor die hersiening van die UP se taalbeleid by te woon, het Afrikaanse studente ook vir dié vergadering opgedaag. Lede van UP-bestuur en die EFF het dié Afrikaanse studente egter toegang tot die vergadering geweier.

AfriForum Jeug staan hul lede by in die saak van aanranding wat vanmiddag teen Amla Mingose Nagih, ’n EFF-leier op UP aanhangig gemaak is. Lede van AfriForum Jeug is met verskeie wapens aangerand.

“Met die aantal studente wat hier opgedaag het, is dit duidelik dat Afrikaans vir duisende studente belangrik is. Prof. Grove het aan AfriForum Jeug die versekering gegee dat ons binnekort na ’n vergadering genooi sal word om óns kant van die saak te stel,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder, gesê.

Die EFF het ook talle klasse ontwrig. Sommige klasse is gesluit om studente te beskerm en ander studente is gedreig, terwyl rassistiese aanmerkings teenoor Afrikaanse studente gemaak is.

“Die EFF se optrede wys duidelik dat die organisasie nie in samewerking of samesprekings belangstel nie. Afrikaanse studente moet juis nóú vir hulle regte saamstaan,” het Mostert gesê.