RedAfrikaans

Afrikaanse studente moet klasgelde terughou tot Junie – AfriForum Jeug #RedAfrikaans

“As ons taal nie goed genoeg is nie, is ons geld ook nie goed genoeg nie!”

Dít was die woorde van Ian Cameron, AfriForum Jeug se woordvoerder. Cameron het verduidelik dat studente ook volgens die Verbruikersbeskermingswet beskerm moet word en dus moet hulle wag om te sien of hulle die Afrikaanse onderrig ontvang wat hulle belowe word. Hy het verder genoem dat die aanslag op Afrikaans sedert die begin van 2016 nie langer geduld moet word nie en dat AfriForum Jeug beplan om vandeesweek die #RedAfrikaans-veldtog bekend te stel. Dié veldtog sluit ʼn vyfpuntplan in wat onder meer behels dat Afrikaanse studente hul klasgelde tot en met Junie 2016 moet terughou.

“Die rektor van die Universiteit van Stellenbosch (US) se infame leuens wat hy die land vol versprei oor die behoud van Afrikaans, moenie ongesiens verbygaan nie. By die Universiteit van Pretoria (UP) heers presies dieselfde situasie, met Afrikaners wat uit vergaderings gejaag word waar hul eie moedertaal bespreek word,” het Cameron bygevoeg.

AfriForum Jeug versoek die publiek om hul steun vir die behoud van Afrikaans by universiteite regoor die land te wys deur “Afrikaans” na 32687 te SMS. SMS-koste beloop R1.