Die_skip_University_of_pretoria-1-scaled

Afrikaans by UP wéér in spervuur; studente het die reg om hulself te verdedig – AfriForum Jeug

AfriForum Tuks sal alles in hulle vermoë doen om Afrikaanse studente en hul regte te beskerm en het reeds veiligheidstrukture in plek wat ontplooi kan word indien studente in gevaar gestel word. Die organisasie kyk ook na optrede oor hoe studente se reg op toegang tot onderrig, ook in Afrikaans, verseker kan word. 

Dít volg na die EFF se uitlatings dat hulle die Universiteit van Pretoria (UP) onregeerbaar sal maak indien Afrikaans as onderrigtaal nie afgeskaf word nie.

Tydens die #FeesMustFall-betogings in Oktober 2015 het betogers by UP onder meer klasse ontwrig en studente gewelddadig uit klaskamers gejaag.  Dié studente was van hul reg op onderrig ontneem en AfriForum Jeug is van mening dat UP nagelaat het om studente voldoende te beskerm.

“Studente het die reg om hulself te verdedig. AfriForum Jeug sal enige student wat hom- of haarself teen betogers verdedig, bystaan indien daar enige saak teen hom of haar gemaak word,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

AfriForum Jeug het sowat twee weke gelede reeds ʼn skrywe aan UP se bestuur gerig waarin die organisasie die universiteit waarsku dat daar moontlik ʼn aanval op Afrikaanse studente kan wees. AfriForum Tuks sal intussen die situasie op kampus monitor.

Sluit aan by AfriForum Jeug deur “Tuks” te SMS na 32687 (R1).