Afrikaans by Universiteit van Stellenbosch is uitsluitingstegniek, sê Nzimande

Dr. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het die Universiteit van Stellenbosch (US) daarvan beskuldig dat die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium, ʼn uitsluitingstegniek is. Die aanval van dr. Nzimande is nie soseer op die Universiteit self gemik nie, maar eerder op die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium op die kampusse waar Afrikaners volop is. 

“Daar is uit die oorspronklike 32 universiteite in Suid-Afrika, nog net een Afrikaanse universiteit oor en waar Afrikaans by universiteite met Engels vervang is, het Afrikaans en die Afrikaner-kultuur heeltemal uitgesterf. Die probleem is dat minderhede soos Afrikaners nie meer toegelaat word om in hulle moedertaal onderrig te ontvang nie. Afrikaners het die reg tot moedertaalonderrig en hulle mag nie van dié reg ontneem word nie. Ons het die universiteite opgebou en Afrikaans tot ʼn hoëfunksietaal ontwikkel. Die universiteite het intussen verengels en Afrikaners vervreem. Mag ons nie eers een universiteit behou wat voorgraadse studies in Afrikaans aanbied nie? Dit is onaanvaarbaar en druis direk teen minderheidsregte en Suid-Afrika se Grondwet in”, sê Marcus Pawson, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Die oplossing is nie om minderhede van hulle kultuur en taal te ontneem nie. Die Minister moet eerder die ander tale ontwikkel wat die standaard van opleiding sal verhoog.

Pawson sê verder dat dr. Nzimande teen Afrikaans is en nie op studenteklagtes na sy kantoor, wat oor swart studente wat rassisties teen ander studente optree handel, reageer nie.

“Die minister moet aanvaar dat Afrikaans ook ʼn Afrikataal is en dat Afrikaners ook Afrikane is. Transformasie word herhaaldelik gebruik om Afrikaners se taal en kultuurregte te ontken en met Engels te vervang.”