UV

AfriForum-regspan waarsku UV teen afskaf van Afrikaans as onderrigtaal

AfriForum het die senaat en bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) in regskrywes gewaarsku dat indien daar voortgegaan word met stappe om Afrikaans as onderrigtaal aan dié universiteit uit te skuif of af te skaf, AfriForum tot regstappe sal oorgaan om Afrikaanse studente se taalregte te beskerm.  Dit volg na die raad van die UV in Desember 2015 die groen lig gegee het daarvoor dat Engels die universiteit se primêre onderrigtaal en taal van administrasie word.

Na klagtes van studente oor probleme met klasse wat in 2016 skielik verengels het, het AfriForum en AfriForum Jeug op 26 Februarie 2016 die eerste keer ’n prokureursbrief aan die universiteit gestuur om te vra dat die studente se regte tot Afrikaanse moedertaalonderrig erken word.

Intussen het dit onder die aandag van AfriForum gekom dat die UV-senaat vandag vergader om oor die universiteit se taalbeleid te besin.  ’n Tweede brief is dus Vrydag aan die senaat en bestuur gestuur om te vra dat die proses op ys geplaas word in die lig van die sensitiwiteit van taalkwessies tans op die Bloemfontein-kampus, maar ook landswyd, en die beskerming van studente se taalregte.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalsake, is AfriForum en AfriForum Jeug se standpunt dat Afrikaans as medium van onderrig en administratiewe taal van die universiteit behou moet word.  “AfriForum voel sterk daaroor dat Afrikaanssprekende studente nie van hulle reg tot moedertaalonderrig ontneem mag word nie, maar eerder dat die universiteit moet moeite doen om aan meer studente toegang tot moedertaalonderrig te bied.”

“Dit sal in almal se belang wees om nie nou onder ideologiese druk oor die taalbeleid te besluit nie, maar eerder wanneer gemoedere bedaar het, met inagneming van insette van onafhanklike kundiges ingeligte, beredeneerde, objektiewe besluite te neem, wat ten beswil van die universiteit en sy gemeenskap as geheel sal wees.”

Daar word tans op die universiteit se reaksie op die prokureursbriewe gewag.