Kallie

AfriForum ondersteun AfriForum Jeug se reg om hulself op kampusse te beskerm

AfriForum ondersteun die reg van AfriForum Jeug-lede en ondersteuners om hulself binne die raamwerk van die wet teen die EFF en ander radikale groepe se aggressiewe dade by die Universiteit van Pretoria (UP) en ander kampusse te beskerm. Om dié rede het AfriForum sy regspan opdrag gegee om die feit dat AfriForum en AfriForum Jeug ook by die interdik ingesluit is wat die UP-bestuur teen die EFF bekom het, in die hof teen te staan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys beeldmateriaal van gister se gebeure op UP duidelik dat die EFF die aggressors was en dat AfriForum Jeug hulself geensins skuldig gemaak het aan dié tipe optrede wat die UP-bestuur nou met die interdik probeer verhoed nie.

“AfriForum is trots op die selfbeheersing wat AfriForum Jeug getoon het toe hulle hulself en die kampus vreedsaam teen die uitdagende en aggressiewe optrede van die EFF verdedig het,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel wil AfriForum Jeug se lede en ondersteuners hulle studies in ’n vreedsame omgewing voortsit en kan hulle nie net terugsit wanneer die EFF klasse ontwrig en die kampus vandaliseer nie.

Kriel het daarop gewys dat die UP-bestuur se besluit om AfriForum Jeug by die interdik in te sluit, bevestig dat die UP-bestuur nie in staat is om die EFF se aggressiewe optrede te beheer nie en nou na strooihalms gryp deur ander partye by die saak in te sleep.

Die EFF en ander radikale groepe se aandrang dat Afrikaans as onderrigtaal by universiteite geskrap moet word, is volgens Kriel ’n aanduiding van dié groepe se anti-Afrikaanse rassisme in terme waarvan Afrikaanse studente as politieke slaansakke op kampusse gebruik word. Kriel het die onbillike behandeling van twee studente wat by die Universiteit van Stellenbosch (US) se persgesigdebakel betrokke was as voorbeeld hiervan uitgewys.

“Die feit dat Afrikaanse studente sterk hierteen begin standpunt inneem – soos met AfriForum Jeug se optrede by US gister – begin reeds vrugte afwerp met onder meer die rektor van US wat ’n onafhanklike ondersoek na die US se hantering van die persgesigdebakel gelas het,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel sal AfriForum aanhou om te doen wat nodig is om Afrikaans en Afrikaanse studente se regmatige plek aan universiteite en in skole te beskerm.