ZA-Elsenburg-Agricultural-Training-Institute

AfriForum Jeug waaksaam oor besluit by Elsenburg

AfriForum Jeug is verheug oor die besluit dat alle onderrig by Elsenburg-landboukollege nie slegs in Engels sal plaasvind soos vroeër die week aangekondig is nie. Dié besluit is vandag tydens ʼn vergadering omgekeer. Beide Afrikaans en Engels is weer as onderrigtale ingestel. 

“Hoewel ons baie bly is oor die besluit, is ons eerstens steeds bekommerd oor die afwesigheid van ʼn besluitnemingsproses wat gevolg kan word wanneer besluite soos dié om die onderrigtaal te verander geneem word. Tweedens kan ons nie verstaan dat daar nog nie opgetree is teen die studente wat die onwettige optog gelei het nie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Sowat 14 leerders van Elsenburg het deelgeneem aan die optog. Die optog is gelei deur ʼn lid van die studenteraad, Sibelo Nkobo. Die optoggangers het talle klasse ontwrig en ander studente hul reg tot onderrig ontneem. “Die bestuur het tot dusver nog glad nie teen die studente opgetree nie. Wat nog erger is, is die feit dat Sibelo Nkobo die hele studentegemeenskap in vergaderings moet verteenwoordig terwyl dit duidelik is dat hy ʼn politieke agenda dryf,” sê Maree.

Darryl Jacobs, waarnemende adjunk direkteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste in die Wes-Kaap, het in ʼn skrywe opdrag gegee dat alle onderrig voortaan slegs in Engels moet plaasvind. “Daar was geen konsultasie met enige party nie. Die departement was ook baie vinnig, dalk te vinnig, om so ʼn drastiese besluit te neem sonder enige ondersoek,” sê Maree.

AfriForum Jeug het vroeër dié week ʼn skrywe aan die kollege gerig waarin daar geëis word dat die besluit om alle onderrig in Engels aan te bied omgekeer moet word, anders sal verdere stappe geneem word.

“Talle lede van AfriForum Jeug het die week aktief saamgewerk om die ondeurdagte besluit van die departement teen te staan. Ons sal die situasie fyn dophou omdat ons vas oortuig is, die week was net ʼn voorsmakie van wat voorlê,” sê Maree.