GLOI

AfriForum Jeug voorsitter uit vergadering gejaag

Die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Henk Maree, is uit ʼn vergadering met die departement van landbou, bosbou en visserye, die studenteraad van die Grootfontein-landboukollege en ander rolspelers gejaag. Dít, omdat lede van Suid-Afrikaanse Studente-kongres (Sasco) aangevoer het dat Maree nie welkom is nie, omdat hy ʼn nasionale jeugorganisasie verteenwoordig en slegs plaaslike leiers glo toegelaat is.

“Ek is verplig om die vergadering te verlaat. Dit is uiters swak van die departement se verteenwoordiger, mnr. Sivelile Nompozolo en die direkteur van die kollege, mnr. Tino Herselman, om toe te laat dat Sasco ʼn vergadering dikteer. Die ander organisasies teenwoordig het nie Sasco se voorstel ondersteun nie,” het Maree gesê.

Die vergadering is belê nadat dit aan die lig gekom het dat die departement die landboukollege se taalbeleid vanaf 2016 wil verander. Die plan is om Afrikaans af te skaf en dit in ʼn Engelse kollege te verander.

Maree het gesê Sasco stel nie belang om die beleid aan te hoor nie, maar wil slegs wanorde skep.

“Ons het belange by die kollege se taalbeleid, wat ʼn nasionale beleid is, en tog is nasionale bestuur nie welkom nie. Ek vind dit vreemd.” 

AfriForum Jeug gaan nou ’n privaat vergadering met die departement versoek.