Jeug-kinders

AfriForum Jeug vier nie Jeugdag nie; skep ʼn beter toekoms

AfriForum Jeug het nie Jeugdag saam met die res van Suid-Afrika se jongmense gevier nie, maar het begin om self ʼn beter toekoms te skep. Dié jeugorganisasie het hul Groenbussieprojek by die Voortrekkermonument bekendgestel waarmee hulle R1 miljoen teen die einde van die jaar wil insamel vir ʼn tweede huis vir die Gracia-kinder- en jeugsorgsentrum in Pretoria.

Solidariteit Helpende Hand het die projek ’n reusehupstoot gegee met ʼn skenking van R100 000.

“Beleide wat veronderstel is om aan jongmense geleenthede te gee het só ras-eksklusief geword dat jong Afrikaners nie meer op die regering kan staatmaak nie. Ons jongmense moet self ʼn blink toekoms bou,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug. 

“Ons het die Groenbussieprojek begin, nadat ons by die Gracia-kindersentrum betrokke geraak en gesien het hoe moeilik hulle oorleef en dat hulle te veel kinders akkommodeer en dringend ʼn bykomende huis benodig. Rasgedrewe beleide diskrimineer teen jeugdiges, ongeag ouderdom of omstandighede. Hierdie kinders trek aan die kortste end en geen regeringsdepartement is bereid om te help nie.”

 

AfriForum Jeug het vandag vet pret gehad saam met die Gracia-kinders. Die jeuglede het hul voorskote aangetrek en moue opgetrek vir ʼn potjiekoskompetisie wat die hongerpyne gestil het, én het die kinders met boeresport en ander aktiwiteite vermaak.

  • Gaan kyk AfriForum Jeug se video oor die kinderhuis en die Groenbussieprojek op AfriForum se YouTube-kanaal, deur HIER te kliek.