90-ballonne-vrygelaat-by-Kovsies-in-Bloemfontein-vir-die-viering-van-Afrikaans-se-90ste-bestaansjaar

AfriForum Jeug vier die 90ste herdenking van Afrikaans as amptelike landstaal

AfriForum Jeug het vandag Afrikaans se 90ste bestaansjaar gevier deur op sewe universiteitskampusse regoor die land groen ballonne in die lug op te stuur. Elke kampus het 90 ballonne gelyktydig om 12 uur losgelaat ter herdenking van 8 Mei 1925, toe Afrikaans deur die parlement as amptelike landstaal van Suid-Afrika erken is.

“Ons is bly dat studente van Tukkies, Maties, Pukke, Kovsies en Grootfontein-landboukollege saam met ons hierdie geskiedkundige mylpaal kan vier. Afrikaanse studente voel sterk oor hul taal en ons sal aanhou veg vir moedertaalonderrig in skole en universiteite in Suid-Afrika,” sê Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug. 

Afrikaans as onderrigtaal word al hoe meer bedreig. Dit word ʼn norm by talle universiteite om sommige kursusse uitsluitlik in Engels aan te bied, ondanks die groot aanvraag van Afrikaanse studente om in Afrikaans te studeer. AfriForum Jeug wil universiteite, asook uitgewers van akademiese boeke en handleidings, motiveer om aan te hou om in Afrikaans klas aan te bied en boeke te publiseer sodat die taal verder kan uitbrei en ontwikkel.

Du Randt sê verder dat die Jeug trots is op Afrikaans wat oor die jare volwaardig tot ’n wêreldklastaal ontwikkel het. Afrikaans is een van net vier tale wat in die vorige eeu suksesvol in alle taalfunksies ontwikkel het.

90 ballonne vrygelaat by Kovsies in Bloemfontein vir die viering van Afrikaans se 90ste bestaansjaar 90 ballonne word by Tukkies losgelaat om Afrikaans se 90ste bestaansjaar te vier