AfriForum Jeug vier Afrikaans se 94ste ‘verjaarsdag’

Afrikaans het op Woensdag 8 Mei 2019 sy 94ste bestaansjaar as erkende landstaal gevier. AfriForum Jeug se kampustakke het hierdie mylpaal op Donderdag 9 Mei 2019 saam met die studente gevier.

Hierdie viering het plaasgevind op die kampusse van Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus, die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, die Universiteit van Pretoria en Universiteit Stellenbosch. Afrikaans is ’n bate vir Suid-Afrika en AfriForum Jeug het besluit om die “Afrikaners is plesierig”-roete te neem en het Fizzers met ’n kort boodskap op die kampusse uitgedeel.

“Ons vier vandag Afrikaans saam met medestudente. Dit is wonderlik dat studente wie se eerste taal nie Afrikaans is nie, ook die geleentheid het om dit saam met ons te vier,” sê Nina Wepener, AfriForum Jeug se takvoorsitter vir die Noordwes-Universiteit.

Raak vandag nog by dié takke se jeug betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na Bernard Pieters by bernard.pieters@afriforum.co.za of SMS jou kampus se naam na 32687 (R1).
Vir meer inligting oor die dag toe Afrikaans vir die eerste keer erken is, volg gerus hierdie skakel: https://forumnuus.co.za/vier-afrikaans-amptelike-taal-op-8-mei/.