AfriForum-Jeug-verseker-Afrikaanse-bystand-by-Grootfontein-Landboukollege

AfriForum Jeug verseker Afrikaanse bystand by Grootfontein-landboukollege

Na afloop van ʼn dringende vergadering tussen AfriForum Jeug se Grootfontein-tak en die bestuur van die Grootfontein-landboukollege in Middelburg, Oos-Kaap is die toegewing gemaak dat eerstejaar Afrikaanse studente wat die nuwe taalbeleid as ʼn struikelblok ervaar, een tot een onderrigsessies kan aanvra.

ʼn Nuwe taalbeleid, wat slegs Engels as onderrigmedium bied, is in 2016 by dié kollege geïmplementeer. AfriForum Jeug is van mening dat hierdie beleid onregverdig toegepas word, aangesien die meerderheid van studente aan dié kollege Afrikaanssprekend is.

“Ons het klagtes ontvang dat daar selfs studente is wat wil opskop omdat hulle nie die werk verstaan nie. Dit sal tot ʼn totale uitsluiting lei indien hierdie maatreëls nie in plek is nie,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

Mostert het voorts gesê dat die jeugorganisasie steeds in gesprekke is rondom die geldigheid van die beleid soos wat die kollege dit tans implementeer.

“Dit is sleg om te sien hoe ʼn beleid soos hierdie eenvoudig geïmplementeer word sonder om die behoeftes van die studente in ag te neem,” het Andries Roos, voorsitter van AfriForum Jeug se Grootfontein-tak, bygevoeg.

AfriForum Jeug meen eerste prioriteit is om bystand aan die studente te verleen, maar die organisasie sal voortgaan om ook ander klagtes onder die bestuur se aandag te bring. Studente word hiermee aangemoedig om die Grootfontein-tak as ʼn klagtekanaal te gebruik, sodat die klagtes volgens die korrekte prosedures aangespreek kan word. Alle klagtes kan na andriesroos96@gmail.com of morne@afriforum.co.za gestuur word.