AfriForum Jeug veroordeel gewelddadige aanranding van landbouskoolseun

AfriForum Jeug veroordeel die beweerde insident by die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland, waartydens ’n matriekseun op gewelddadige wyse fisiek en psigies gekrenk is, ten sterkste. Die jeugorganisasie het gratis berading aan die seun en ander leerlinge, wat deur die aanranding getraumatiseer is, gebied.

“Hierdie tipe gedrag is op geen manier verdedigbaar nie. Wat die aangeleentheid des te meer ontstellend maak is dat daders én omstanders die aanranding blykbaar aanvaarbaar vind. AfriForum Jeug hoop dat die betrokkenes, wat die wet oortree het, vir hul dade verantwoordelik gehou sal word,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

“Ons versoek die slagoffer én die ander geraakte leerlinge se ouers om met ons in verbinding te tree. Ons wil werklik die geleentheid gegun word om te help waar ons kan.”