Maties-3

AfriForum Jeug verkry dringende interdik teen US

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vandag ’n tussentydse interdik toegestaan waarkragtens die Universiteit van Stellenbosch (US) beveel word om sy taalbeleid – wat breedweg vir gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels as onderrigtale voorsiening maak – met ingang van 29 Maart 2016 te implementeer.

Dié bevel volg nadat AfriForum Jeug ’n hofaansoek gebring het waarin hulle beweer dat die US nóg sy taalbeleid en taalplan, nóg ‘n skriftelike onderneming wat die universiteit in Februarie aan AfriForum Jeug gegee het, uitvoer.

George Steyn, voorsitter van die US-raad, het erken dat  die taal waarin sommige modules aangebied word nie aan die taalspesifikasies voldoen wat in die 2016-jaarboek vervat is nie. Volgens hom is daar 268 modules wat van die taalspesifikasies in die onderskeie fakulteite afwyk.

In ’n beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, voer Steyn aan dat die Uitvoerende Komitee van die Raad en die rektor se bestuurspan aanvaar dat, tot die mate wat daar van die taalspesifikasies van die Jaarboek afgewyk word, die US onregmatig optree.

AfriForum Jeug  vra ook ’n bevel aan dat ’n raadsbesluit van 20 Februarie 2016, waarvolgens die taalbeleid buigsaam toegepas kan word, nietig verklaar en tersyde gestel moet word.

Volgens Steyn aanvaar die Uitvoerende Komitee van die Raad en die rektor se bestuurspan ook dat hierdie besluit regtens aanvegbaar is omdat dit neerkom op ’n wysiging van die taalplan sonder dat die voorgeskrewe regsproses gevolg is óf sonder om AfriForum Jeug daaroor te raadpleeg, soos wat die US skriftelik onderneem het om te doen.

Prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor van leer en onderrig, wat in AfriForum Jeug se aansoekstukke saam met prof. Wim de Villiers, die rektor, as diegene uitgesonder word wat die afwykings van die taalbeleid gedryf het, het in ’n beëdigde verklaring Steyn se beëdigde verklaring bevestig in soverre dit op hom (Schoonwinkel) en die rektor se bestuurspan betrekking het.

“Hierdie is ’n oorwinning vir die Afrikaanssprekende gemeenskap van Suid-Afrika. Dit is duidelik dat prof. de Villiers en sy bestuurspan nie die belange van die studente en universiteit op die hart dra nie,” het Hein Gonzales, woordvoerder vir AfriForum Jeug, gesê.