AfriForum Jeug verkla Beeld by Persombudsman

AfriForum Jeug het ’n klag teen die Afrikaanse dagblad, Beeld ingedien by die Persombudsman. Dié klag kom na maande se onakkurate en sensasionele beriggewing in die koerant oor studenteaangeleenthede op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).

“AfriForum Jeug was sedert Februarie van voorneme om die klag te lê. Ons het egter besluit om eers te wag nadat die NWU aangekondig het dat hulle self ’n klag teen Beeld gaan lê. Die NWU het egter tot dusver nie ʼn direkte antwoord gegee oor hul pad vorentoe nie, en dus het ons, ons eie klag ingedien,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.

AfriForum Jeug het in ’n skrywe aan die NWU se Institusionele Kantoor gevra of die klag wat die NWU teen Beeld gelê het terug getrek is of nie. Tot dusver is geen antwoord van die NWU ontvang nie.

“AfriForum Jeug ondersteun vryheid van spraak. Ons verstaan en respekteer die rol wat die media in Suid-Afrika speel, maar onverantwoordelike joernalistiek kan nie oorgesien word nie,” sê Maree.