AfriForum Jeug veg vir beter gehalte tersiêre onderrig by Tuks

AfriForum Jeug en studente wat dié organisasie ondersteun, het vandag ʼn veldtog op die Universiteit van Pretoria (UP) se hoofkampus van stapel gestuur om studente bewus te maak van dié universiteit se dalende statuur as tersiêre instelling. As deel van dié veldtog is nikswerdgrade aan studente uitgedeel.

Dít volg nadat die UP in een jaar met 50 plekke van nommer 501 (in 2015) tot nommer 551 (in 2016) op die QS World University Rankings gedaal het. Dít terwyl die UP in 2014 nog onder die top 500 universiteite getel het met ʼn 471ste plek op dié ranglys.

Volgens Henrico Barnard, AfriForum Jeug se Tuks-woordvoerder, is dié organisasie van mening dat hierdie daling in statuur beduidend is van dalende navorsing- en onderriggehalte en dat dit toegeskryf kan word aan aanstellings en toelatings wat nie op grond van meriete gedoen word nie. Hy sê voorts dat die universiteit nie plaaslik en internasionaal kan meeding wanneer dit by akademiese uitnemendheid kom nie.

AfriForum Jeug moedig studente aan om tydens die verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) vir AfriForum-kandidate te stem, en sáám druk op die UP-bestuur uit te oefen om te verseker dat aanstellings en toelatings slegs op grond van meriete geskied.

Barnard sê voorts dat die UP 360 plekke agter die Universiteit van Kaapstad (UK) is wat met ʼn rangorde van 191 die beste presteer het van alle Suid-Afrikaanse universiteite wat op dié ranglys verskyn.

“Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) met ʼn rangorde van 359 en die Universiteit van Stellenbosch (US) met ʼn rangorde van 395 presteer ook ver beter as die UP. Die UP is 49ste op die BRICS-ranglys en presteer baie swakker as UK, Wits en US wat op nommer 14, 26 en 35 onderskeidelik op die BRICS-ranglys staan.”

“Om die UP te help om sy doelwit te bereik om teen 2025 een van die top 100 universiteite in die wêreld te wees, moet studente tydens dié verkiesing opstaan om vir ʼn organisasie te stem wat ʼn verskil kan maak.”