20151030_140053-scaled

AfriForum Jeug veg vir Afrikaans by die Puk

AfriForum Jeug het ʼn memorandum aan prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, oorhandig vir die behoud van Afrikaans aan die Puk.

Ná die oorhandiging het die jeugorganisasie ononderhandelbare kwelpunte met prof. Kgwadi bespreek, wat onder meer die beskerming van Afrikaans as moedertaalonderrig by die Potchefstroom-kampus van die NWU, die verwerping van transformasie, gehalte-opleiding en die viktimisering van studente-leiers wat Afrikaans steun insluit.

“Niemand gaan namens ons besluite neem oor Afrikaans en Afrikaner-studente by die Puk nie. Ons sal vir onsself praat oor sake wat vir ons belangrik is. Ons wil in Afrikaans leer, leef en ontwikkel. Ons het prof. Kgwadi se versekering gekry dat geen student, komitee-lid, HK- of SR-lid wat opstaan vir Afrikaans en ander sake geviktimiseer sal word deur sy kantoor of enige ander personeellid nie,” sê Marcus Pawson, AfriForum Jeug se nasionale verteenwoordiger.

“Alleenlik deur georganiseerde studentedruk sal die laaste Afrikaanse kampus nog Afrikaans bly. Dit is nou tyd vir elke student om op te staan vir die Puk en sonder vrees vir viktimisering of intimidasie hul steun aan AfriForum Jeug te gee. Solank as wat ons respek toon aan ander, kan ons respek van ander verwag.”

Prof. Kgwadi se kantoor het onderneem om AfriForum Jeug se memorandum na die NWU-raad te neem en om skriftelik daarop te reageer.

20151030_130618