UV

AfriForum Jeug: UV se hantering van studente na Varsity-beker-voorval is ongrondwetlik

AfriForum Jeug het ’n brief beskikbaar gestel vir studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat deur die universiteit gedwing word om Vrydag vir ’n dissiplinêre verhoor op te daag. Dit spruit voort uit die voorval op 22 Februarie vanjaar toe betogers ’n rugbywedstryd op Shimlapark ontwrig het.

Die UV beskuldig studente in ’n brief wat aan hulle gestuur is, dat hulle onder meer skuldig is aan ernstige wangedrag, aanranding met die opset om ernstig te beseer en openbare geweld. Die universiteit voer ook aan dat studente artikel 1(2) van die UV se reëls oor studentedissipline oortree het.

“Die universiteit se skrywe is só bewoord dat dit blyk dat studente rééds deur die UV skuldig bevind is en nou geleentheid kry om hul onskuld te bewys. Hierdie is nie net teenstrydig met die Grondwet nie, maar ook teen die reëls van natuurlike geregtigheid. Die trant van die brief dui daarop dat studente moontlik nie ’n billike verhoor sal kry nie. AfriForum Jeug is beskikbaar om studente by te staan om te verseker dat die universiteit prosedureel korrek optree,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

Die studente word voor ’n dissiplinêre paneel gedaag om antwoorde op die aanklagte teen hulle te gee. Hulle mag ook getuies roep om in hul verdediging te getuig en mag ook deur ’n ouer of voog bygestaan word.

In AfriForum Jeug se brief wat vir studente beskikbaar is, word daar verduidelik dat die universiteit se prosesse onbehoorlik is en nie aan die universiteitsreëls vir studente voldoen nie. Dié brief lui voorts dat studente die reg voorbehou om verdere voorleggings te maak aangesien die universiteit nie die nodige inligting aan hulle voorsien het nie.

AfriForum Jeug sal studente bystaan om vir verdere besonderhede aan te vra indien hulle dit sou versoek.

Lede van die gemeenskap kan AfriForum Jeug se veldtog ondersteun deur “ONBILLIK” na 32687 (R1) te SMS.