AfriForum Jeug tree dringend met Onderwysdepartement in verbinding oor swak uitslae en growwe nalatigheid met betrekking tot moedertaalonderrig

AfriForum Jeug beplan om more dringend met die Departement van Onderwys in verbinding te tree nadat dit aan die lig gekom het dat vanjaar se matriekuitslae tot dusver nie op die gewensde standaard is nie.  AfriForum Jeug se navorsing dui op growwe nalatigheid by die departement wat ondersteuning aan moedertaalonderrig aanbetref, wat direk vir sodanige teleurstellende uitslae verantwoordelik gehou kan word.

Ernst Roets, uitvoerende hoof van AfriForum Jeug, het gesê dat hierdie nalatigheid verband hou met beleidskwessies, optrede, sowel as finansiële ondersteuning aan meertalige instansies.  Volgens Roets is hierdie probleem nie net op skoolvlak sigbaar nie, maar is daar ook geweldige probleme met betrekking tot meertaligheid by tersiêre instansies.

“Die gebrek aan moedertaalonderrig is een van die kernprobleme in Suid-Afrika se onderwysstelsel.  Daar is jaarliks voorbeelde van skole wat moedertaalonderrig gee met ʼn 100% slaagsyfer, teenoor skole waar moedertaalonderrig nie gegee word nie met ʼn 100% druipsyfer,” het Roets gesê.  “Dit is algemeen sigbaar dat skole en universiteite waar klem op moedertaalonderrig geplaas word, se skoliere en studente beter presteer.”

AfriForum Jeug sal more ʼn memorandum met die noodsaaklike stappe wat deur die departement geneem moet word om hierdie probleem aan te spreek, aan die minister van Onderwys oorhandig.