No-e-toll-230x172-1

AfriForum Jeug sit voet neer teen e-tol

AfriForum Jeug het besluit om ’n aksie van stapel te stuur teen die omstrede e-tolstelsel. Dit, nadat president Jacob Zuma by die ANC se Manifes-forum op 22 Oktober 2013 in Johannesburg gesê het dat studente moontlik van die stelsel vrygestel kan word. Na dié verklaring was vrystelling nog nie weer ter sprake nie. Die Kabinet het wel reeds bevestig dat taxi’s en minibusse nie tolgeld op Gauteng se paaie betaal nie, aangesien dit in die belang van arm Suid-Afrikaners is.

“Die meerderheid studente verdien geen vaste inkomste nie. Studente wat wel ʼn inkomste verdien se inkomste is wisselvallig en val onder die belastingdrempel. Studente kan wel aansoek doen vir persoonlike lenings om die nodige finansies te bekom om te studeer, maar dit moet ten duurste terugbetaal word. Daar is studente wat elke dag van hul tuisdorp moet inry na hulle onderskeie universiteite toe en dit kan tot R178.00 per rit kos. Alle studente word deur die stelsel geraak,” sê Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug se Tukkies-tak.

AfriForum Jeug begin dus vandag met ʼn petisie waarmee hulle studente aanmoedig om hulle voet neer te sit teen die e-tolstelsel. Die veldtog gaan by drie van die jeugtakke gedryf word, aangesien dit nie net studente in Gauteng raak nie.

“Die doel van die petisie is om die regering en Sanral bewus te maak daarvan dat die meeste studente bloot nie genoeg geld het om e-tol te betaal nie, en om hulle aandag op ons versoek te vestig. Dit is belangrik vir ons om met soveel moontlik universiteite in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat in verbinding te tree aangaande die petisie,” sê Oosthuyse.

AfriForum Jeug moedig alle studente aan om hul petisie aanlyn in te vul by www.afriforumjeug.co.za.