AfriForum Jeug se Puk-tak ontevrede met nuwe handelsmerk

AfriForum Jeug se Puk-tak het sy misnoeë uitgespreek met betrekking tot die besluit van die raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) om die embleem van al drie kampusse van die universiteit na ’n unitêre pers kleur te verander. Die woord “Pukke” gaan ook nie meer deel vorm van die Potchefstroomkampus se handelsmerk nie. Dít volg na afloop van ’n handelsmerkkonsultasieproses waartydens die NWU-raad op dié nuwe korporatiewe identiteit besluit het.

Die raad wou aanvanklik die handelsmerk eensydig verander, maar ná groot ontevredenheid onder studente en alumni, is daar besluit om belanghebbendes vir een van drie moontlike handelsmerke te laat stem. Die universiteitsraad het erken dat die pers handelsmerk die tweede keuse was ingevolge die konsultasieproses. Volgens die studenteraad het die oorgrote meerderheid van 11 000 deelnemers die handelsmerk gekies wat groen, blou en maroen bevat.

“Die raad het egter hierdie stemming geminag en steeds voortgegaan om pers te kies. Dit veroorsaak ’n vertrouensbreuk tussen studente en alumni, en die universiteitsraad. Ons het vandag ’n skrywe aan die raad gerig om onder meer uit te vind of die konsultasieproses bloot ’n rookskerm was om belanghebbendes gerus te stel. Dit is ’n kwessie wat studente en alumni direk raak. Waarom het hulle ons opinies gevra indien hulle in elk geval net voortgaan met hul oorspronklike besluit?” vra J.P. Nel, voorsiter van AfriForum Jeug se Puk-tak.

“Die kampusbestuur moet versigtig wees vir die vervreemding van huidige en voornemende studente. Dit kan enorme skade tot die bekende handelsmerk en identiteit van die Puk-kampus veroorsaak,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder van kampusstrukture.

“Die universiteitsraad moenie voornemende studente mislei met die idee dat hulle op die Puk gaan studeer nie, want dit is duidelik dat hierdie 148 jaar oue handelsmerk tot ’n einde gekom het,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Teken die petisie om te verseker dat die Puk se identitiet behoue bly deur op die volgende skakel te klik https://afriforumjeug.co.za/pukblypuk/.

 

Puk-Pers