RhodesMustFall

AfriForum Jeug sal sélf strafregtelike klag teen #RhodesMustFall-vandale lê

AfriForum Jeug sal sélf ’n strafregtelike klag teen die #RhodesMustFall-vandale lê indien dr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, dit nie doen nie.

Dit kom nadat ondersteuners van dié betogingsveldtog kultuurerfenis geskend het deur historiese skilderye asook voertuie aan die brand te steek.

“Ongeag die eensydige mening van ’n radikale organisasie soos #RhodesMustFall, móét ons daarna streef om alle elemente van kultuur en geskiedenis in Suid-Afrika te bewaar. Dit is die enigste wyse waarop die jeug die land se ryk geskiedenis kan help voortbestaan,” sê Ian Cameron, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder.

AfriForum Jeug sal vandag ook aan alle universiteitsbesture in die land ’n brief stuur om te waarsku dat hulle erfenisskatte op kampusse moet help bewaar. Universiteitsbesture het ’n verantwoordelikheid om kultuurerfenis te bewaar en toe te sien dat sekuriteitstrukture voldoende is om enige vorm van geweld en vandalisme onmiddellik te stuit. Enige persoon wat hom of haar aan kultuur- en erfenisdiefstal skuldig maak, moet strafregtelik aangekla en ondersoek word.

AfriForum Jeug sal help om studente te beveilig indien hierdie geweld na mense oorspoel, veral teenoor studente wat ’n historiese verbintenis het met die erfenisskatte wat beskadig en vernietig word. Studente word aangemoedig om hulself te verdedig en op hul reg vir onderrig in ’n veilige omgewing aan te dring.