logo

AfriForum Jeug rig waarskuwing aan prof. Kgwadi

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, is deur AfriForum Jeug gewaarsku dat indien hy nie alles in sy vermoë doen om studente se veiligheid te verseker nie, die burgerregte-organisasie die hof sal nader om hom te dwing om op te tree.

Tydens onlangse vergaderings van #ReformPUK was die radikale drukgroep se leiers baie aggressief en het selfs gedreig om die Totius-standbeeld te verwyder. AfriForum Jeug se bekommernis oor die veiligheid van studente het toegeneem nadat prof. Kgwadi klaarblyklik opdrag gegee het dat die hekke van die universiteitskampus nie gesluit mag word wanneer #ReformPUK betoog nie.

“Dit is uiters onverantwoordelik van prof. Kgwadi en dit wil voorkom asof hy nie die belange van alle studente op die hart dra nie,” het Hans Gildenhuys, voorsitter van AfriForum Jeug se Potchefstroom-tak, gesê.

AfriForum Jeug het verder versoek dat prof. Kgwadi die versekering moet gee dat eksamens geensins deur betogings ontwrig sal word nie. Indien eksamens wel ontwrig word, kan prof. Kgwadi ʼn dringende hofbevel van AfriForum Jeug verwag wat hom sal dwing om die betogings onmiddellik stop te sit.

“Prof. Kgwadi is die verantwoordelike persoon, en as hy nie sy pligte gaan nakom nie, gaan ons hom verplig om dit te doen,” het Gildenhuys afgesluit.