AfriForum Jeug plant bome vir ’n groener toekoms
AfriForum Jeug se Bloemfontein- en Kovsies-tak het op 31 Augustus 2019 bome in die Gardeniapark geplant.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard. Die jeug in Bloemfontein het daarom besluit om olienhoute (Olea europaea, subs. africana), riviervaderlandswilge (Combretum erythrophyllum) en verskeie vetplante te plant.
Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer.
“Die jeug is die toekoms van ons land. Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons omgewing en moet onderneem om aan ons toekoms te bou,” sê Petri van der Walt, voorsitter van AfriForum Jeug se Bloemfontein- en Kovsies-tak.
Raak vandag nog by dié takke se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: SMS die woord “Bloemfontein” of “Kovsies” (vir studente) na 32687 (R1 per SMS).