IMG-20151026-WA0013

AfriForum Jeug oorhandig “Respect our right to learn”-memorandum aan presidensie

Respekteer ons reg om te leer, laat ons toe om in Afrikaans te studeer en hou op om ons aan kwotastelsels te onderwerp. Dít was die boodskap wat AfriForum Jeug-verteenwoordigers namens Afrikaner-studente aan die presidensie oorhandig het. Die jeugorganisasie het vandag ’n memorandum aan die president se kantoor oorhandig tydens ’n bespreking oor ’n aantal sake wat van groot belang vir Afrikaner-studente is.

Volgens Henrico Barnard, AfriForum Jeug-verteenwoordiger, het Afrikaanse studente simpatie met die finansiële knelpunte wat deur die #feesmustfall-veldtog geopper word. Ons belange word egter nié deur dié groep verteenwoordig nie.

AfriForum Jeug het homself gedistansieer van die taktieke wat deur die betogers gebruik is. “Niedeelnemende studente is aangeval, party moes hulself in klasse versper uit vrees dat hulle geslaan gaan word; studente wat eksamen geskryf het, is ontwrig en ander is gedwing om aan die betogings deel te neem. Selfs universiteitspersoneel is na bewering gyselaar gehou. Die gevolg is dat die meerderheid studente van hul reg tot onderwys ontneem is,” het Barnard gesê. 

Volgens Ian Cameron, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, sluit sake wat bespreek is die uitsluiting van Afrikaner-studente van finansiële hulp in, asook die rasgebaseerde kwotastelsel vir toegang tot instellings en die benarde posisie van Afrikaans as onderrigmedium.

Die meeste van vandag se Afrikaner-studente is ná 1994 gebore. Hulle het onder die nuwe Grondwet grootgeword. En tog het Afrikaner-studente in praktyk nie dieselfde vryheid as hul medestudente nie. Vandag se Afrikaner-studente het geen rol in Apartheid gespeel nie, tog moet hulle gebuk gaan onder beleide wat daarop gemik is om uitkoms van dáárdie stelsel aan te spreek. “Ons word nou toenemend met beleide gekonfronteer wat daarop uit is om ons van die onderwys uit te sluit,” het Cameron gesê.

Ons neem kennis dat die tersiêre-onderwyslandskap nou verander het. Ons is ook bewus daarvan dat die regering ’n aantal beleidsveranderinge in dié opsig gaan aanbring. Ons is egter vasbeslote om ’n aktiewe rol in dié wysigings te speel om seker te maak dat ons belange nie misken word nie. Ons dring daarom op die volgende aan:

  • ’n Veilige leeromgewing vir alle studente en dat maatreëls by instellings moet bestaan om die regte van sowel betogende en niebetogende studente te beskerm.
  • Gehalte-onderrig vir almal.
  • Dat die beginsels van akademiese vryheid en institusionele outonomie deur die regering gerespekteer moet word.
  • Dat rasgebaseerde kwotas met betrekking tot universiteitstoelating in geheel geskrap moet word.
  • Dat klas- en rasgebaseerde kwotas in die geval van finansiële hulp geskrap moet word.
  • Dat die regering sy grondwetlike plig nakom deur finansiële hulp vir moedertaalonderrig te voorsien en dat dit by alle leerinstellings toegepas en beskerm moet word.

Sedert 1994 is daar gulde aandag aan daardie sake gegee wat voorheenbenadeelde studentegemeenskappe geraak het – en met reg. Die gevolg is dat Afrikaner-studente in die laaste 20 jaar moes aanvaar dat hulle bekommernisse tweede viool sou moes speel waar dié sake ter sprake was. Maar die situasie het intussen verander. Ons is nou deel van ’n vrygebore generasie, en ons weier om verder as tweedeklasburgers behandel te word.

“As ons die beskerming van ’n grondwetlike demokrasie geniet, dring ons op daardie regte aan wat die Grondwet ons gun,” het Barnard gesê.

Lees die memorandum HIER —> AfriForum Youth_Memorandum to Pres Zuma 26 Oct

 

IMG_20151026_122702 IMG-20151026-WA0013