IMG_20160615_125859

AfriForum Jeug oorhandig memorandum oor transformasiebeleid

AfriForum Jeug het vandag ’n memorandum aan die kantoor van dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, oorhandig waarin hulle hom daarop wys dat transformasieteikens reeds by Suid-Afrikaanse universiteite bereik is en dat dit dus nie meer nodig is om ’n rasgedrewe transformasiebeleid te dryf nie.

Dié jeugorganisasie is van mening dat Nzimande sy fokus nou moet verskuif na kwessies in die hoëronderwyslandskap wat alle rasse raak.

“Die memorandum sluit onder meer statistiek in wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) ingesamel en gepubliseer is. Dié statistieke toon dat 70% van studente wat aan Suid-Afrikaanse universiteite studeer swart is,” sê Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder.

“Ons versoek dat die minister sy grondwetlike plig nakom en beleide in plek stel sodat studente op grond van meriete by universiteite toegelaat kan word. Dít sal verseker dat universiteite die beste ingenieurs, medici en ander gegradueerdes oplewer,” sluit Mostert af.