image-8

AfriForum Jeug neem Paasfeesgees na die Jakaranda Kinderhuis

AfriForum Jeug Tukkies het die Jakaranda Kinderhuis in East Lynne, Pretoria besoek om die sowat 250 kinders met die Paasfeesgees te vul. Dié jeugtak het 25 bokse paaseiers, klere en speelgoed by die kinderhuis uitgedeel.

Die Jakaranda Kinderhuis ontvang nie meer finansiële steun van groot privaat maatskappye of die regering nie, omdat 70% van die huis se inwoners wit is. Dit het ʼn direkte invloed op die kinderhuis se maandelikse bedryfskoste. Elke huis het sowat 13 kinders wat wissel tussen 18 maande en 18 jaar.

“Volgens die kinderhuis se webwerf kos dit sowat R218 per dag om na elke kind se behoeftes om te sien. Ons wou ʼn verskil in die kinders se lewe maak, al was dit net vir een dag. Ons wou nie net ʼn donasie aflaai nie, so, ons het die hele dag lekker met die kinders gespeel. Die studente van AfriForum Jeug Tukkies het ʼn paaseier-soektog vir die kinders gehou, en dit was groot pret,” sê Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies.

AfriForum Jeug moedig ander studente aan om betrokke te raak by gemeenskapsprojekte, veral by kinderhuise. “Al wat party huismoeders vra, is iemand wat die kinders kan help met huiswerk. Dit is dalk net ʼn bietjie tyd wat jy gee, maar die invloed wat jy op kinders se lewens het, is van onskatbare waarde.”

image 7 image image 2 image 6